top of page
Mountain%20vector1_edited.png
Carin Rijnen@2x.png
Leadership Development@2x.png
Carin Rijnen
Uitvoerende hoof - Leierskap Ontwikkeling & Afrigting

Relator, Strategic, Learner,

Maximizer, Achiever (CliftonStrengths®)

  • LinkedIn

Is dit ’n goeie begin of ’n goeie einde? Of die reis tussenin?

 

My reis het nie noodwendig ’n goeie begin nie, dit was eintlik beskeie. Na my eerste graad in regte begin ek werk. Ek het net nie belang gestel in die regsberoep nie. Ek het hierdeur besef ek sal harder moet werk, meer moet lees, voortdurend moet leer, na kundiges moet luister en myself verder moet uitdaag en strek, aangesien ek nie die ondersteuning gehad het van ’n toepaslike kwalifikasie in die nuwe rigting waarin ek myself bevind het nie. My uitganspunt was eenvoudig: in elke posisie in my loopbaan sal ek my uiterste bes doen, bemeester wat van my verwag word en nog verder strek.

 

Hierdie fokus, tesame met my leierskapvaardighede en sterkpunte, het my loopbaan gerig. Ek het vinnig vooruit gegaan en op die ouderdom van 31 jaar is ek bevorder na die pos van Uitvoerende Bestuurder: Besigheidsontwikkeling. Hier het ek geleer wat die waarde van ’n duidelike visie, strategie, organisasiestrukture, effektiewe prosesse en gemotiveerde personeel is, ten einde die doelwitte van ’n maatskappy of onderneming te bereik.

 

Etlike jare later is ek gekonfronteer met die belangrikheid van tyd. Ek het afgekom op iets wat Coca-Cola se voormalige uitvoerende hoof, Bryan Dyson vertel het. Hy het gesê, veronderstel die lewe is ’n spel waar jy vyf balle in die lug moet hou. Jy gee hierdie vyf balle elkeen ’n naam. Jy noem hulle werk, familie, gesondheid, vriende en jou gees. Die uitdaging is om al vyf hierdie balle in die lug te hou. Jy sal gou verstaan dat werk ’n rubberbal is. Indien jy hom laat val, sal hy weer terugbons. Die ander vier balle – familie, gesondheid, vriende en jou gees – is van glas gemaak. Indien jy een van hierdie balle laat val, sal hulle ongetwyfeld skaaf, ’n merk op kry, gestamp of beskadig word of selfs in stukke breek. Hulle sal nooit weer dieselfde wees nie. Jy moet hierdie les verstaan en altyd strewe na balans in jou lewe. Ek het my besluit geneem en vir die volgende jare ons dogter grootgemaak.

 

In hierdie tyd het ek op ’n keer ’n aanhaling van Jess Lair gelees, “Children are not things to be moulded, but are people to be unfolded”. Deur my besluit en hierdie reis het ek begin verstaan wat die waarde daarvan is om potensiaal te laat ontvou, om waardes te vestig en  jouself as betekenisvol te sien.

 

Ek glo in Jesus en weet dat elkeen van ons geskape is met ’n passie, doel en droom in ons harte. Ons is nie perfek nie en is ook nie geskape om perfek te wees nie. Ons is mense, ons sal uitgedaag en gestrek word, ons sal getoets word. Dit is die lewe. Ons moet streef na uitnemendheid, nie perfeksie nie. Om in ons doel en droom in te tree met passie en deur ’n proses van ontvouing, ontdek ons onsself – ons sterkpunte en vermoëns, ons gawes en persoonlikheid. As ons weet wie ons is, kan ons kies wie ons wil wees.

 

Mense is die sleutel om enige maatskappy of onderneming se visie en doelwitte te bereik. Omdat dit so is, het ek nou die voorreg by Monstrante® om deur die leierskap- en persoonlike opleiding en afrigting wat ek aanbied, deel te wees van mense wie se potensiaal ontvou – die reis tussenin.

 

Ps 139:13-16

“...Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep...”

bottom of page